Stilword by God

Print

gebedemetvlerke

Elke venster van my huis het ’n ander prentjie na buite.

Uit my slaapkamervenster sien ek die groot skaduboom met sy digte blare wat in die somer die koelte wyd oor ons tuin sprei en wintertye sy kaal swart takke na alle kante toe uitstrek.

Uit ons sitkamervenster kyk ek op ons avokadopeer- en suurlemoenboom wat met hul blinkgroen blare en vruggies seënend oor die agterplaas waak. Die groot skuifdeure maak oop op die stoep vanwaar ons wyd kan uitkyk oor die tuin met sy hol waterklip waarin die voëls bad en selfs ’n skugter eekhoring kom water drink. Die grasperk vertel van rus en samesyn en hartsbelewenisse.

Uit my kombuisvenster kry ek ’n glimp van die lewe anderkant my sparretjiesheining: Die grys straat met sy fietsers en skoolkinders op skaatsplanke. Ma’s met kinderwaentjies en ouer mense met kieries. Drawwers met hul honde aan leibande. Werkers wat in die loom middagson terugkeer huis toe.

Ek word stil by God. Ek sit in sy teenwoordigheid en kyk na buite - deur vensters wat oopmaak op die seën en vervulling wat Hy vir my in gedagte het.