My Hart Se Punt

Print

myhartsepunt“Niks sal ooit weer dieselfde wees nie,” het ek gedink toe ek met my eerste baba oor ons huis se drumpel stap. En dit was presies net so. Wat ek egter nie kon voorsien het nie, is hoe diep elke nuwe baba in my hart sou kruip en hoe elkeen vir hom ’n spesiale, unieke holtetjie sou uittrap wat steeds net syne is.

Vir ’n ma is haar kroos haar ‘hart se punt’. Dit gee nie om of sy een of meer kinders het nie. Haar hart rek bloot groter om almal te kan insluit.

Deur kinders dop te hou, te luister na wat hulle sê en jouself oop te stel om by hulle te leer, word jyself verryk.

’n Kind kyk met helder oë. Hulle is onbevange eerlik. By ’n kind leer ons dikwels lesse in vergifnis, geduld en liefde. Hulle wys ons op die waarde van klein dingetjies. Hulle verras ons met  hul spontane aangryp van elke dag.  En beskaam ons met hulle opregte geloof.

’n Ma moet weer die entoesiastiese klein lewensontdekkertjie leer hoe om die minste te wees; hoe om te kan verloor; hoe om ’n goeie maatjie te wees. En hoe om God as Vader te leer ken en liefhê.

‘My hart se punt’ is klein grepies uit die alledaagse waarin ma’s hulself én hul kleingoed sal herken en weer inspirasie kry vir saamstap op die grootmaakpad.